SETI

'n Kunstenaar se voorstelling van die voltooide ATA-350

Search for Extra-Terrestrial Intelligence (SETI) is 'n sambreelterm vir 'n verskeidenheid projekte wat deur mense onderneem word om na radioseine te soek wat moontlik van ekstra-terrestriële beskawings kom. Vroeë SETI-projekte is onder meer deur die regering van die Verenigde State befonds, maar in die latere stadium van die soektog het finansiële bydraes hoofsaaklik uit private bronne gekom.

Kernstuk van die projek is die 42 skottels van die Allen Telescope Array (ATA) wat deur die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, VSA bedryf word en deel uitmaak van die Hat Creek Observatory (HCO) in Shasta County, 467 kilometer noord-oos van San Francisco. ATA vang potensiële radioseine in die frekwensieband tussen 0,5 en 11,2 Gigahertz op. ATA is opgerig teen 'n koste van 50 miljoen VSA-$ en vernoem na Paul Allen, die medestigter van Microsoft wat 'n ruim skenking vir die projek gemaak het.

Die projek is op 22 April 2011 voorlopig gestaak weens 'n tekort aan fondse vir die onderhoud van die ATA-teleskoop wat gegewens aan SETI verskaf het.[1] SETI se bedryfskoste beloop jaarliks ten minste 1,5 miljoen $, terwyl die SETI-instituut 'n verdere miljoen $ benodig. Dié koste is oorspronklik merendeels deur die deelstaat Kalifornië en die Amerikaanse National Science Foundation (NSF) gedra. Weens Kalifornië se finansiële krisis en inkortings by die NSF beskik SETI tans nie meer oor die nodige fondse om die salarisse van medewerkers en die kragrekening vir sy radioteleskope te betaal nie.

  1. www.welt.de: SETI-Projekt eingestellt - USA haben für Außerirdische kein Geld mehr, 27 April 2011

Developed by StudentB